Geloof as antwoord op môre

SKRIFLESING: Jeremia 32: 1 – 25

In die huidige Suid-Afrikaanse samelewing huiwer mense om grond te koop. Sommige politieke partye het ’n  beleid van grondonteiening sonder vergoeding en dit stem ons almal tot onrus en bekommernis. ’n Mens wil voel om sommer handdoek in te gooi. Is dit nog die moeite werd om te boer en my plaas te verbeter? Ons geloofsmoed is maar broos en ons wil tou opgooi.

Maar ons gelese gedeelte speel af in die Babiloniese ballingskap, waar die toekoms van Israel baie donker lyk en die profeet Jeremia in aanhouding is, onder huisarres.  Jeremia doen ’n vreemde ding. Vanuit die tronk beklink hy ’n absoluut gekke ekonomiese transaksie. Hy koop ’n stuk grond in Anatot van sy neef Ganamel, waarop die Babiloniese leër uitkamp. Jeremia koop dus ’n stuk grond waarop hy in alle waarskynlikheid nooit ’n boom sal plant of wingerde sal snoei of ’n huis sal bou nie – wat hy in alle waarskynlikheid nooit eens sal sien nie.

Dit is so goed jy gaan koop ’n leë erf in die middel van Khayalitsha om ’n netjiese huis te bou en ’n groentetuin en ’n blomtuin aan te lê.

Jy sal stapelgek wees om dit te doen. Alles sal gesteel word en die bokke en beeste sal alles afvreet.  Maar as jy dit koop, koop jy dit in die geloof dat die erf later tot jou voordeel sal wees. Geloof is dus die antwoord op môre se vraagstukke. Jy vertrou dat God in môre se vraagstukke en probleme sal voorsien. Dit vra moed om te glo, as alles donker lyk.

Jeremia se praatjies oor hoop is nie net praatjies nie. Jeremia verklaar as’t ware dat daar lewe na Babilon is. “The prophet puts his money where his mouth is.” In wese is Jeremia se koop van die grond ’n geloofsdaad. Jeremia belê as’t ware in die toekoms. Dit is ’n daad van hoop wat as teken moet dien dat dit weer goed sal gaan in Israel. Hierdie daad van Jeremia laat ’n mens nogal aan Abraham dink. Ook hy moes die skynbaar dwase ding doen om die vreemde in te trek. Hy moes die onlogiese ding doen om sy enigste seun Isak – die kind van die belofte – te gaan offer. Net so doen Jeremia die skynbare onlogiese ding om ’n stuk grond in Anatot te koop.

Net so het ons ook in die Suid-Afrikaanse samelewing ’n boodskap van hoop nodig. Ons lees elke dag van geslagsgeweld, gewelddadige betogings, misdade, moorde, korrupsie, ekonomiese verval, munisipale dienslewering wat agteruit gaan, armoede en werkloosheid. In ons eie lewens beleef ons ook dinge wat ons tot wanhoop dryf.

Dan het ’n mens HOOP nodig – maar nie hoop wat op valse optimisme gebou is nie. Valse optimisme kan soos dryfsand wees, jou net dieper laat wegsink.

Hoe kry ons dit reg om te bly hoop al lyk die situasie hopeloos? Jeremia koop nie die grond bloot omdat hy ’n optimis is nie. Nee, Jeremia handel op grond van sy geloof in God. Anders gestel: Jeremia sien nie bloot God se toekoms nie, hy sien vir God self. Daarom bid hy tot God en noem Hom: “Here, my God.”

Die Here is die een wat die onmoontlike kan doen. Die Here maak die onvrugbare Sara swanger. Die Here lei die slawevolk na vryheid. God kan ook nou die onmoontlike doen. Ten spyte van die omstandighede kan God dit weer laat goed gaan.

Die hopelose situasie spreek nie die laaste woord nie, maar wel die God wat ons hoop is. Daar is hoop wanneer ons nie kyk na die geskiedenis voorhande nie, maar na die God wat die geskiedenis in Sy hand hou. Ja, God se naam is geskryf bokant elke bladsy van die geskiedenis. God se naam is reeds geskrywe op elke bladsy van jou 2026-jaarkalender. Die Here se naam is reeds volgende jaar 365 keer daar geskryf voor elke dag se verpligtinge begin. Met die daeraad, daar sal jy vir God reeds aan die werk kry.

In die Nuwe Testament lees ons ook van ’n skynbare hopelose tyd van ’n Vrydag op Golgota – toe die Hoop vir die mense aan ’n kruis gespyker is. Die Vrydag en Saterdag was ’n donker tyd, maar op Paassondag het die lig deurgebreek. Christus Jesus het opgestaan – daardeur is daar ewig ’n grens gestel aan wanhoop.

Die Christenspreker Tony Campolo vertel dat hy in ’n stadium aan ’n swart gemeente in Philadelphia in die VSA behoort het. Dit was ’n besondere aangename gemeente om in te preek, want die gemeente het geen geheim gemaak van hoe hulle die preek ervaar nie. Eenkeer het Campolo ’n bietjie gesukkel met sy formulering en dadelik het ’n vrou uit die agterste banke geroep: “Please help him, Jesus!” ’n Ander keer weer het dit heelwat beter met sy preek gegaan en elke keer wanneer die gemeente tevrede was met wat hy gesê het, het hulle laat hoor: “Preach brother, preach!”

Een Goeie Vrydag was hy een van sewe predikers wat die oggend moes voorgaan. Hy was voorlaaste en sover hy kon oordeel, het dit goed gegaan. Soos hy dit self stel: “I was so good, I wanted to take notes on myself.”

Na hom moes ’n ou predikant preek. Dié sê toe vir hom: “You did allright, boy.” Effens vies vir die benaming het Campolo half leedvermakerig by homself gedink: Ek wonder hoe die ou man, wat my “boy” noem, nou eintlik met die prekery sal vaar. Die ou prediker het egter ’n uur-en-half lank die gehoor aan sy lippe laat hang en Tony moes toegee dat hy sleg afsteek by die ou prediker.

Wat die ou prediker se preek nog meer merkwaardig gemaak het, was die feit dat hy een sinnetjie oor en oor gebruik het: “IT’S FRIDAY, BUT SUNDAY IS COMING!”

Hy het sag begin:

“Dit was Vrydag en Jesus het gehang aan die kruis – maar dit was Vrydag: Sondag kom nog!”

“Dit was Vrydag en die dissipels en vroue het gehuil – maar dit was Vrydag: Sondag kom nog!”

“Dit was Vrydag en die skeptiese mense kyk na die wêreld en sê: niks kan en sal verander nie. Maar die siniese mense het nie geweet dat dit nog maar Vrydag is nie: Sondag kom!”

En so het hy aangehou. Teen die einde het hy geroep: “IT’S FRIDAY!” en die gemeente het spontaan en luidkeels geantwoord: “BUT SUNDAY IS COMING!”

Wanhoop – dit is wat Kierkegaard die “Sickness unto death” noem. In sulke tye moet ons onthou van die stuk grond wat Jeremia gekoop het. Ons moet onthou dat Jesus daardie Sondag opgestaan het. As ons wanhopig of moedeloos is, kan ons sê: “Dit is nou eers Vrydag, maar Sondag het gekom!”

Victor Frankl wat die Joodse gevangenes waargeneem het in die Duitse konsentrasiekampe (soos Auschwitz) het tot die gevolgtrekking gekom dat mense op twee maniere op moeilike en onmenslike omstandighede kan reageer. Jy kan in wanhoop in jou ellende lê en sterf, wat inderdaad gebeur het met Joodse gevangenes wat alle hoop verloor het. Ander in dieselfde omstandighede het die Duitse konsentrasiekampe oorleef omdat hulle bly HOOP het. Hulle het vir mekaar in die konsentrasiekampe stories van hoop vertel en begin beplan en droom van nuwe besighede wat hulle gaan begin na die oorlog. Hulle het ’n veel beter kans gehad om die konsentrasiekampe te oorleef, want daar was hoop in hulle harte en hoop in hulle gesprekke.

Daarom moet ons nie verlam raak deur 2026 se probleme nie. Vertrou God, Hy sal elke oggend vir jou nuwe krag gee en met die daeraad vir jou wys hoe Hy op die regte tyd voorsien. Wat onmoontlik lyk, sal God op Sy tyd moontlik maak.

Die Suid-Afrikaanse religieuse skrywer Ruben Alves wys daarop dat die lewe soos ’n dans is: “Hope is hearing the melody of the future. Faith is to dance to it.”

Daarom moet ons ook elke dag tekens van hoop oprig.

Ons moet voortgaan om huise te koop.

Ons moet voortgaan om ons kuddes te verbeter.

Ons moet verbeterings op ons plase doen.

Ons moet bome plant.

Ons moet wingerde aanlê.

Ons moet groentetuine maak en blomtuine maak.

Ons moet voortgaan om die Evangelie te verkondig.

Watter tekens van hoop gaan jy oprig in 2026? Met geloofsmoed moet ons die toekoms kreatief skep. Gelowiges is altyd kreatief met die toekoms, omdat hulle glo in die kragtige werking van God-Drie-Enig.             AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

ERKENNING: Verskeie teologiese bronne, naslaanwerke, asook KI (Kunsmatige Intelligensie) is gebruik. Waar KI woordeliks aangehaal word, word dit ALTYD volgens etiese standaarde in aanhalingstekens gekwoteer. Sommige van die foto’s is deur KI geskep of gerestoureer.

Wanneer Kersfees ons Leefstyl vorm

SKRIFLESING: Jesaja 61: 1 – 2 en Luk 4: 16 – 30

Wanneer Kersfees verby is, word die kersboom en kersversierings weggepak. Die familie en die vriende keer weer terug na hulle bestemmings. Binne dae, begin elkeen weer te werk en die nuwe jaar aan te pak. Die gesindheid van Kersfees, van welwillendheid, word ook sommer by die deur uitgevee. Kersfees 2025 is verby, die kersboom is in die kas, so ook ons welwillendheid en liefde.

Maar dan verstaan ons Kersfees verkeerd. Kersfees is die begin van Epifanie, wat beteken die verskyning van die Here. Die Here Jesus het met Kersfees verskyn omdat Hy na die mensdom gekom het met ’n uitgewerkte agenda. God het ’n love affair met die wêreld, daarom het Hy Sy Seun gestuur. Hierdie uitgewerkte agenda van Jesus Christus begin met Kersfees en sal eers met die wederkoms van die Here Jesus afgesluit word. Dié tydperk word genoem die genade-jaar van die Here, of soos die 2020-vertaling daarna verwys as die “aangename tyd”

In Jesaja 61: 1 – 2 voorspel die profeet Jesaja eerste die genade-jaar van die Here en daarna verkondig Hy die oordeel. Met ander woorde die profeet Jesaja voorspel daar sal eers ’n genade-jaar wees en dan sal die oordeel van God aanbreek. Jesus Christus se geboorte sal die begin van die genade-jaar aankondig en die genade-jaar sal voortduur tot en met die wederkoms. Eers met die wederkoms sal die oordeel van God in werking tree.

Die Here se eerste koms is die genade-jaar en Sy tweede koms is die wederkoms, die oordeelsjaar.

In Luk 4: 16 – 30 het die Here Jesus die profeet Jesaja in Jes 61: 1 – 2 woordeliks aangehaal, maar het opgehou net voor die laaste gedeelte van vers 2 wat lui: “… die dag waarop ons God Sy vyande straf.” Hy het met ander woorde Jesaja aangehaal tot en met die genade-jaar, opgehou lees en die boekrol toegemaak en toe gaan sit om te preek. Hy het nie die gedeelte van die oordeel gelees nie, omdat dit eers later kom. Jesus het nie die Joodse gebruik gevolg om Sy preek met oordeel af te sluit nie. Juis daarom was dit een van die redes waarom die Skrifgeleerdes en die Jode Hom verwerp het.

Jesus Christus het hierdie profesie in vervulling laat gaan. Hy het gekom om die genade-jaar aan te kondig. Hy het nie gekom om te veroordeel nie, daarom staan daar: Jesus Christus het hierdie profesie in vervulling laat gaan. Hy het gekom om die genade-jaar aan te kondig. Hy het nie gekom om te veroordeel nie, daarom staan daar in Luk 4:18 – 19 die volgende:  Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die goeie boodskap aan arm mense te verkondig. Hy het My gestuur om vir gevangenes aan te kondig dat hulle vrygelaat sal word, en vir blindes dat hulle weer sal sien, om onderdruktes te bevry, en om die genadejaar van die Here aan te kondig. Dit was en is nog steeds God se agenda.

Daar staan in Luk 6: 37 die volgende: Moenie oordeel nie, dan sal ook julle beslis nie geoordeel word nie. Moenie veroordeel nie, dan sal julle ook nie veroordeel word nie. Vergeef, dan sal julle ook vergewe word.

Daarom het Jesus tydens Sy 33 jaar op aarde, die agenda wat met Kersfees gegee is, uitgeleef. Hy het met sondaars gemeng en in Saggéüs die hooftollenaar, die hoofsondaar, se huis tuisgegaan. Hy het siekes gesond gemaak en aan melaatses gevat. Hy het die owerspelige vrou beskerm teen die Fariseërs wat haar met klippe wou doodgooi. Hy het toegelaat dat ’n prostituut sy voete was met kosbare nardusolie en dit met haar hare afdroog. Hy het gemeng met die sondige wêreld, want dit was sy agenda, sy werksplan.

Met Sy Hemelvaart het Hy hierdie agenda en werksplan aan Sy kerk oorgegee. Daarom is dit die taak van die kerk om tot met die wederkoms van onse Here Jesus Christus die taak, die agenda en die werksplan van God voort te sit.

Ons kan die kersboom wegpak, maar ons moet voortgaan met die agenda, die rede waarom Jesus Christus na hierdie wêreld gekom het. Daarom kan ons nooit ophou om die rede vir Kersfees te vier nie.

Daarom moet ons nie op boemelaars neersien nie … hulle lewe van ons menslikheid. Daarom moet ons nie ’n ongetroude moeder verwerp nie … hulle soek net vergifnis. Daarom moet ons nie van gevangenes vergeet nie … hulle wil besoek word. Daarom moet ons nie op armes neersien nie … hulle soek ons respek. Ons moet ook nie die bejaardes vergeet nie … hulle wil graag besoek word, omdat hulle velhonger is vir ’n drukkie en liefde. Daarom moet ons nie siekes vergeet nie … hulle lewe van ons belangstelling. Daarom moet ons nie van sterwendes vergeet nie … want hulle lewe van ons deernis. Daarom moet ons nie ons vyande vergeet nie … want hulle soek ons vergifnis.

Ons moet genade betoon, omdat aan ons genade betoon is. Want sien, ons lewe in die genade-jaar (die aangename jaar) van die Here Jesus Christus.

Howard Thurman het aangrypend geskryf en dit só reg verstaan:

When the song of angels is stilled,

When the star in the sky is gone,

When the kings and princes are home,

When the shepherds are back with their flock,

The work of Christmas begins:

to find the lost,

to heal the broken,

to feed the hungry,

to release the prisoner,

to rebuild the nations,

to bring peace among the brothers,

to make music in the heart.

St. Franciscus van Assisi het geleef saam met die armes, die siekes, die randfigure, die gebrokenes en die natuur. Hy het intiem gebid:

Here, maak my ’n instrument van U vrede.
Waar daar haat is, laat my liefde bring.
Waar daar ’n wond is, heling;
Waar daar twyfel is, geloof;
Waar daar wanhoop is, hoop.
Waar daar duisternis is, lig;
Waar daar droefheid is, vreugde.
O, Heilige Meester, gee dat ek,
In plaas daarvan om vertroosting te soek,
ander sal vertroos;
Om begrip te hê, as om begryp te word;
Om liefde te gee, as om bemin te word.
Want deur te gee, ontvang ons;
Deur te vergewe, word ons vergewe;
en deur te sterwe, word ons gebore tot ʼn Ewige Lewe.
— Die Gebed van St. Franciscus van Assisi —

Stephan Joubert beskryf dit duidelik: “Terwyl ons mekaar afskryf, skryf God ons in genade op.” Ons kan so maklik met ’n veroordelende vingerwysing mekaar afskryf en veroordeel. Ons weeg mekaar en as ons iemand te lig beskou, ignoreer ons dié persoon of smeer sy naam swart. Met veroordelende harte weeg en beoordeel ons mekaar. Vir genade is daar geen plek nie.

Ek moet nie die oordeel van God aan u verkondig nie, dit is God se werk met die Wederkoms. Nee, my taak is om elke Sondag aan u ’n ander kant, ’n ander faset van God te verkondig. Om God se liefde in al sy veelkleurigheid en vrolikheid aan u te verkondig. My taak is nie om u met prediking te veroordeel nie, maar om elke Sondag vir u te verkondig dat God vryspreek en liefhet.

Daarom het die Here Jesus ook die owerspelige vrou in Joh 8 nie veroordeel nie, maar aan haar genade betoon omdat dit die genade-jaar van die Here Jesus is.

Die genade-jaar strek vanaf Christus se geboorte tot en met Sy wederkoms. Daarom leef ons hier in die jaar 2025 nC in die genade-jaar van die Here.  Eers as die horlosie en die kalender van hierdie wêreld gaan staan, hou die genade-jaar van God op. Tot dit egter gebeur moet die kerk van die Here die genade-jaar verkondig.

Daarom preek ons Gereformeerde dominees so min oor die hel en oordeel van God: omdat ons nog in die genade-jaar van die Here lewe. Dit is die GENADEJAAR! U as Nuwe-Testamentiese gemeentes, Adelaide en Fort Beaufort, lewe binne-in die genade-jaar. Wat ’n voorreg!

Daarom is dit my vreugde om elke Sondag aan u die GENADEJAAR van die Here te verkondig. Om elke Sondag ’n ander kant of faset van God se liefde, genade en deernis aan u te verkondig. U moet elke Sondag verwonderd staan voor God se ongelooflike liefde.

Wanneer die Evangelie so gebring word dat dit jou bang maak, is daar ‘n probleem. ’n Bangmaak-Evangelie het in homself die kiem van dwaalleer. Die woord EVANGELIE beteken immers “goeie tyding” of “goeie boodskap” en daarom wil die Evangelie jou vry maak, jou los maak. Ja, die Evangelie wil vir jou vreugde en blydskap bring. Die toets van suiwer Woordverkondiging is of die Woord “vry maak” om ’n nuwe verloste lewe te lewe.

Jubel in die Here, Gemeente! Julle is bevoorreg om in die genade-jaar van ons Here Jesus Christus te lewe. Omdat ons in die genade-jaar van die Here lewe en die Here aan ons    soos aan die owerspelige vrou in Joh 8 – genade betoon, moet ons ook aan mekaar genade betoon.

Wanneer Kersfees ons lewenstyl vorm, word ons genadiger, sagter, meer barmhartig met mekaar. Dan leef ons die gees van Kersfees die hele jaar uit.

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

ERKENNING: Verskeie teologiese bronne, naslaanwerke, asook KI (Kunsmatige Intelligensie) is gebruik. Waar KI woordeliks aangehaal word, word dit ALTYD volgens etiese standaarde in aanhalingstekens gekwoteer. Sommige van die foto’s is deur KI geskep.

Om brugbouer te wees in ‘n verdeelde wêreld

SKRIFLESING: 1 Samuel 25: 2 – 44

In ons skrifgedeelte lees ons van Abigajil, wat met ’n korrelkop en onbeskofte man Nabal getroud was.

Nabal was ’n man in Maon, wat sy boerdery in Karmel gehad het. Hy was skatryk en het drieduisend skape en ’n duisend bokke gehad. Wanneer hierdie gebeure afspeel, was hy juis besig om sy skape in Karmel te skeer.

In dieselfde tyd was Dawid en sy manne ook in die gebied en hy het gehoor Nabal skeer skape. Hy het toe tien jongmanne na Nabal gestuur om vir hom gesondheid en goeie wense toe te wens. Dawid het gesê dat die boodskappers ook moes vermeld dat sy manne Nabal se skaapherders beskerm het en seker gemaak het dat geen van Nabal se kleinvee wegraak nie. Dawid se manne het as’t ware soos ’n hedendaagse plaaslike sekuriteitsmaatskappy die vee van Nabal opgepas.  Toe kom Dawid met ’n vriendelike versoek in vers 8: “Gee dan asseblief wat u byderhand het vir u dienaars en vir u seun, vir Dawid.”

Die onbeskofte korrelkop Nabal het sy humeur heeltemal verloor en terug laat weet dat daar baie slawe was wat van hulle eienaars weggeloop het. Hy sou nie die brood, water en vleis van sy skeerders afstaan aan Dawid nie.

Dawid was ook nie ’n maklike man nie.  Ook hy was maar ’n bietjie van ’n korrelkop en het sy humeur onnodig verloor. Dawid het vierhonderd man gereed gemaak om na Nabal te gaan en hom en almal wat manlik was in sy kamp dood te maak.

Een van die veewagters het na Abigajil, die vrou van Nabal, gegaan en haar vertel dat Dawid en sy manne hulle skaapwagters opgepas het en dat Nabal nie vir Dawid enige vergoeding wou gee nie. Nou sou Dawid gaan om Nabal en almal wat manlik is in die kamp dood te maak.

Abigajil was nou vrou-alleen vasgevang tussen die twee korrelkoppe, wat albei verkeerd en humeurig opgetree het. Dan kom sy as een van die  Bybel se groot vredemakers na vore. Abigajil het vinnig tweehonderd brode, twee kruike wyn, vyf gaargemaakte skape, vyf emmers gebraaide koring, ’n honderd trossies rosyntjies en tweehonderd koeke gedroogte vye gevat en dit op donkies gesit en dit vooruit vir Dawid gestuur. Sy het vir haar man Nabal niks hiervan gesê nie en toe later self na Dawid toe gegaan. In groot nederigheid het sy voor hom gekniel en bely dat haar man ’n dwaas was en dat Dawid tog vir hulle genadig moes wees. Sy het ’n lang betoog gevoer oor hoekom Dawid hulle moes spaar en sy het ook die lof van Dawid besing.

In vers 32 kom Dawid tot sy sinne en onderneem om die saak daar te laat staan en nie vir Nabal en al die manlikes in sy kamp dood te maak nie. Hy het ook die goed wat Abigajil gebring het aanvaar en haar bedank dat sy hom gekeer het om bloed te vergiet en die reg in eie hande te neem.

So het Abigajil die vredemaker geword tussen twee korrelkoppe.  Sy het gekeer dat bloed vloei. Deur haar optrede kon sy die onbeskofte Nabal en die humeurige Dawid albei tem.

Toe Abigajil by die huis kom, was haar man besig om partytjie te hou en hy was dronk. Sy het hom niks vertel voor die volgende oggend toe hy nugter was nie. Nabal was so geskok dat hy ’n beroerte gekry en verlam geraak het. Omtrent tien dae later het hy weer ’n ernstige beroerte gekry en gesterf.

Toe Dawid verneem van Nabal se dood het hy dadelik manne gestuur na Abigajil se huis en gesê dat Dawid haar sy vrou wou maak. Sy was egter bereid om net ’n slavin van Dawid te word. Tog het sy op ’n donkie, en met  haar vyf slavinne, gegaan en in die huwelik getree met Dawid. Sy was Dawid se tweede vrou.

Daar is niks so hartseer as om met ’n twisgierige man of vrou getroud te wees nie. Daar is ook niks so erg soos ’n vriend of kollega by die werk wat rusie aanhits nie. Om met ’n korrelkop of humeurige persoon saam te leef of te werk, is een van die goed wat ’n mens se energie tap. Dink net hoe swaar moes Abigajil nie gekry het in haar huwelik met Nabal nie. Eintlik was sy ’n mishandelde vrou. So is daar baie mishandelde vroue en mishandelde mans en mishandelde kollegas, wat die onbeskoftheid van ander moet verduur.

Om ’n Geesvervulde mens te wees, wil Pinkster ons daaraan kom herinner om nie twisgierig en onbeskof te wees nie. Geesvervulde mense is vredemakers soos Abigajil. Hulle ontlont konflik en bring vrede. Hulle is die minste en gee alles om vrede te bewerkstellig.

’n Korrelkop of ’n humeurige mens is vol van hulself en leeg van die Heilige Gees. Dit gaan net oor hulle en hulle belange. Hulle sal die wêreld vernietig, net om hulle sin te kry.

Dieselfde geld vir die politiek. ’n Politikus leef van konflik, maar ’n staatsman soek vrede vir alle parte en volkere. So was Nelson Mandela ’n staatsman, want hy het die belange van alle Suid-Afrikaners op sy hart gedra. Met die Wêreldbeker-eindstryd van 1995 was hy op die rugbyveld saam met die seëvierende Springbokke om die Wêreldbeker vas te hou vir alle Suid-Afrikaners.

’n Vredeliewende woord, ’n glimlag en ’n kompliment keer die grimmigheid af. Moenie kwaad met kwaad vergeld nie, maar vergeld kwaad met die goeie. Moenie olie op die vuur gooi nie, maar smoor die vuur met jou liefdevolle benadering.

Gavin Reid sê tereg dat ons nie “sjalom” (vrede) moet verstaan as iets wat weggeneem moet word om vrede te veroorsaak nie, maar eerder iets wat toegevoeg moet word om vrede te veroorsaak. Dit neem nie noodwendig al die stryd weg nie, maar dit verander die situasie deur die toevoeging van liefde, sorg en hulp.  Vredemakers skep ’n positiewe lewensruimte vir ander mense, sodat almal gelukkig onder God se son van genade kan leef. Abigajil het so geleef.

William Jennings Bryan vertel ’n sprokie oor vrede: “Vertel my wat is die gewig van ’n sneeuvlokkie,” het die mossie aan die wilde duif gevra. Die duif het geantwoord: “Niks meer as niks.” “In daardie geval gaan ek vir jou ’n wonderlike verhaal vertel,” het die mossie gesê: “Ek het op ’n tak gesit terwyl dit sneeu. Dit was nie ’n storm nie. Dit het net so saggies neergesif, sonder enige geluid of klank. Ek het die sneeuvlokkies getel wat op die tak geval het. Dit was 3 741 962. Niks meer as niks – soos jy gesê het – toe breek die tak.” Die mossie het toe weggevlieg. Die duif wat ’n outoriteit op vrede is sedert Noag se tyd het hieroor nagedink. Hy het tot die slotsom gekom: “Miskien kom net een mens se stem kort om vrede op aarde te laat kom.”

Die bekende kerkvader van die vyfde eeu n.C.,  Augustinus van Hippo, het in sy teologiese werk “De Civitate Dei” die twee “stede” beskryf, wat hy genoem het die aardse stad van selfliefde en die hemelse stad van God. Hy skryf as volg:

“Waar die liefde tot God die hoogste is, daar is vrede.

Waar die liefde tot self heers, daar is verdeeldheid.

Mag die liefde van God oor die wêreld uitstort,

sodat die aarde rus in die vrede van die Hemelstad.”

Sy seënbede behels meer as net politieke vrede. Vir hom bring Goddelike liefde en vrede weer orde en harmonie aan alles wat lewe en word daarom dan beskryf as die  “ ordo amoris”.

Ons moet brugbouers wees, soos die Heilige Gees die groot Brugbouer is. Die Heilige Gees bou brûe tussen mense, geslagte, volkere, rasse, klasse en uiteenlopende menings.

In Handelinge 2 sien ons die Gees se eerste groot brugbouprojek: Pinkster. Mense uit verskillende tale, volke en kulture hoor die Woord in hulle eie taal die Gees oorbrug menslike verskille.

Waar die toring van Babel spraak verwar het, bring die Gees weer verstaan. Waar verdeeldheid geheers het, bring Hy gemeenskap tussen nasies en volkere.

Die Heilige Gees maak die kerk een liggaam, al is ons verskillend (1 Kor. 12:13).

Hy bou brûe van vergifnis, versoening, medelye en vrede – nie net in gemeentes nie, maar ook tussen rasse, geslagte en samelewingsgroepe.

Die Heilige Gees help ons om mekaar deur Christus se oë te sien, en nie deur die wonde van die verlede nie.                                       AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

ERKENNING: Verskeie teologiese bronne, naslaanwerke, asook KI (Kunsmatige Intelligensie) is gebruik. Waar KI woordeliks aangehaal word, word dit ALTYD volgens etiese standaarde in aanhalingstekens gekwoteer. Sommige van die foto’s is deur KI geskep.

Kan ‘n jakkals van snaar verander

Skriflesing: Luk 9: 51 – 55 en Hand 8: 4 – 8, 14 – 17

Kan ’n mens regtig verander? Ons het mos ’n spreekwoord wat as volg lui: “ ’n Jakkals verander van haar, maar nie van snaar nie.”

Kan ’n mens regtig verander met betrekking tot:

  • afleer van ou gewoontes wat sondig is
  • selfsug, na offervaardigheid
  • hoogmoed, na nederigheid
  • vyandskap, na liefde?

Ons gaan egter stilstaan by die laaste: Kan vyandskap en vooroordeel tussen mense regtig verander in liefde en vrede?

Telkemale lees ons in die Bybel van die vyandskap tussen die Jode en die Samaritane. In die tyd van Jesus was die vyandskap alreeds ’n vete van meer as 1000 jaar en dit het al hoe erger geword. Kom ek verduidelik aan u ’n bietjie van die vete:

  • Die Samaritane het die Jode verag omdat hulle die tempel nie op die regte plek volgens die voorskrifte van Moses gebou het nie en die Jode het die Samaritane afgeskryf, omdat hulle nie in Jerusalem aanbid nie. (Dink aan die Samaritaanse vrou se vraag in Johannes 4.)
  • Die Jode het die Samaritane as onrein, as minderwaardig beskou. Daarom het Jood en Samaritaan nie ’n beker gedeel nie. (Vergelyk die Samaritaanse vrou se verbasing in Johannes 4.)
  • Die Jode en Samaritane het nie by openbare plekke gemeng nie. (Verbasing van Jesus se dissipels in Joh. 4, toe hulle Jesus by die put sien, saam met die Samaritaanse vrou.)
  • Die Jode het die Samaritane ook verag omdat hulle volgens Joodse standaarde nie rassuiwer gebly het nie, maar met ander nasies ondertrou het. Wat die Jode betref was die Samaritane min of meer melaats.

Dit was dus ook die gebruik dat die Jode ’n ompad om die land van Samaria geloop het as hulle op pad was om in Jerusalem te gaan aanbid.

Tog, volgens Luk. 9, gaan Jesus op sy tog na die Paasfees in Jerusalem nie met ’n ompad langs verby Samaria nie. Hy steek sommer kortpad deur Samaria. Maar toe Hy in ’n Samaritaanse herberg vir Hom en sy dissipels verblyf vir die nag wou laat reël, het die Samaritane geweier dat Hy in hulle dorp oornag. Jesus was immers ’n Jood op pad na die verkeerde tempel.

Onmiddellik was Jesus se dissipels woedend. “Here,” vra Jakobus en Johannes “wil U hê ons moet vuur uit die hemel afroep om hulle te verteer?” Die twee Seuns van die Donder, twee van die verregses in Jesus se groepie, was gereed vir aksie. Rassekonflik was nou baie naby.

Die probleem was dat die dissipels se Joodse afkoms vir hulle swaarder geweeg het as hulle Christenskap.

  • Jesus moes ’n politieke Bevryder word.
  • Jesus moes ’n republiek stig.
  • Daarom baklei hulle so oor wie die belangrikste is – wie die kabinetsposte gaan kry.
  • Hulle Christenskap was vol politieke agendas.

Daarom kan ’n mens verstaan waarom die twee Seuns van die Donder dan vuur en oordeel oor hulle vyande wou afbid. ’n Mens kan inderdaad vra: “Kan die dissipels verander? Wat moet gebeur dat die haat, vooroordeel en vyandskap in hulle harte moet verdwyn? Kan mense regtig verander?”

Nee, mense kan nie verander nie, hul kan hoogstens verbeter. Maar Christene kan radikaal verander, omdat Christus hul verander.

Die Seuns van die Donder wou vuur afbid op hul teenstaanders, maar op Pinksterdag bid God vuur op hulle. Op Pinksterdag het die Heilige Gees soos tonge op hulle neergedaal en hulle harte verteer. So kry hulle die onmoontlike reg, naamlik om hul eertydse vyande lief te kry.

In Handelinge breek die vervolging van Christene uit sodat hulle moet vlug. So beland Filippus in ’n Samaritaanse dorp. Daar vertel hy vir die mense van Jesus van Nasaret. En daar gebeur die wonderlikste dinge: Lammes en kreupeles word gesond en versteurde mense word normaal. Hier gebeur nou presies die teenoorgestelde van dit wat die vuurvreters in Luk. 9 wou doen. Die letterlike vuur wat hulle uit die hemel wou afroep, word vervang met geestelike vuur uit die hemel. Pleks dat die Samaritane verteer word, word hulle gesond!

So verkrummel ’n 1000 jaar se vyandskap. ’n Duisend jaar se mites en vooroordeel oor mekaar verbrokkel. Vyandskap word vervang met broederskap.

Wat het gebeur? Die krag van die Heilige Gees het oor hulle gekom! Wanneer die Heilige Gees met ’n mens werk, vind daar bevrugting plaas, word ’n nuwe lewe verwek en ’n nuwe mens gebore: ’n Mens wat na God lyk en soos God optree. Iemand soos Jesus.

Dit is waarom die Jesusgroepie in Handelinge 8 so anders optree as in Lukas 9. Toe die Heilige Gees oor hulle gekom het, het die haters verander in sendelinge en die geweldbidders in mense wat seën.

Toe verander die haat van ’n 1000 jaar binne ’n oogwink in vrede en blydskap. Is ons Christene? Verstaan ons wat dit beteken om in hierdie land deur die Heilige Gees oorskadu te word?

Begryp ons dat ’n mens ’n naloper van Jesus kan wees, sonder om ’n navolger van Jesus te wees? Johannes, Jakobus en Petrus het honderde kilometers al agter Jesus aangeloop, sonder dat hulle regtig sy volgelinge geword het. Hulle het met hulle eie agendas agter Jesus aangeloop.

Die Rooms Katolieke kerk het sedert die dertiende eeu die Transsubstansiasie-leer geformuleer en bely, waarin hulle glo dat die brood letterlik verander in die “liggaam van Christus” en die wyn letterlik verander in die “bloed van Christus”. Sou daar na die Rooms Katolieke Nagmaal (ook genoem – die Mis) brood en wyn oorbly, word dit fisies begrawe in die kerk se tuin. Met ander woorde in die Rooms Katolieke Nagmaal gaan dit oor  brood en wyn wat verander in Christus se liggaam en bloed.

In die Protestantisme glo ons egter dat die brood en wyn net TEKENS is van Jesus se liggaam en bloed. Dit is nie die tekens wat verander met die gebruik daarvan nie. Dit is ons as gelowiges wat die Nagmaal gebruik, wat verander moet word om al meer soos Christus te lyk. Die brood en wyn wil ons transformeer om al meer soos die beeld van Christus te lyk. Dit is nie die tekens wat verander nie, maar óns wat moet verander. Daarom moet ’n mens voor elke Nagmaalsgeleentheid nadink oor jou eie sonde.

Glo u regtig in Pinkster? Glo u regtig in die Heilige Gees? Het die Heilige Gees al regtig oor u lewe gekom en u lewe verander?

Bid ons vuur op mekaar, of het God se vuur (Heilige Gees) ons al so verander dat ons ons vyande liefhet en seën? Dit is nie maklik nie, maar wie het gesê om ’n Christen te wees, is maklik? Is jy ’n naloper of ’n navolger? Bid jy vuur of seën op jou teenstaanders?

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.) 

ERKENNING: Verskeie teologiese bronne, naslaanwerke, asook KI (Kunsmatige Intelligensie) is gebruik. Waar KI woordeliks aangehaal word, word dit ALTYD volgens etiese standaarde in aanhalingstekens gekwoteer. Sommige van die foto’s is deur KI geskep.

Dapperheid in die aangesig van die dood

Die dood was en is nog nooit maklik vir mense nie. 

Baie ongelowige mense beleef die dood as ’n doodloopstraat. Dit is die einde. Die dood is ’n muur en alles is nou verby. Met die dood word ek verpletter teen die muur. Dit is “Ikabod” – dit is verby. So glo die ateïste en ongelowiges. Hulle sterwe het geen sin, betekenis of vrede nie.

Hulle sal eerder by ’n kroeg of klub bymekaar kom en ’n paar mooi goed oor die persoon deel, ’n paar grappies oor sy of haar lewe vertel en dan ’n heildronk instel met ’n glas bier of Whisky.

Ek het al begrafnisse bygewoon waar ongelowige mense letterlik met die afsak van die kis, saam in die graf geklouter het, omdat hulle die dood nie met dapperheid kan hanteer nie. Vir hulle is ’n begrafnis die eindpunt van alles.

Dan kom die Evangelie helder deur in Joh. 14:1 – 3 : “In my Vader se huis is baie wonings …” Die dood word gesien as oorgang, nie as ’n einde nie – ’n deurgang na volheid. Die dood is nie ’n punt nie, maar ’n komma. Na die komma volg die res van die sin. Na die dood volg die res, die tweede gedeelte, die ewige deel van my lewe.

Jou liggaam word oud en afgemat, maar jou gees kan nie oud word nie. Die Engelse oom wat ek eenkeer in Huis Corrie Dreyer besoek het, wat in sy tagtigs was en op pad om te sterf, sê vir my: “Dominee, kyk na my liggaam. Dit is net bene en ’n vel. Daar bly niks van my oor nie. Kyk, hier lê ek in doeke, weet jy hoe vernederend is dit? Maar weet jy, dominee, in my gees is ek nog soos ’n springchicken. In my gees voel ek nog jonk.” Jou gees kan nie oud word nie. Dit gebeur wel dat jy in jou gees moeg raak, soos iemand wat moeg gelewe is, baie swaar gekry het of depressief is. Die gees kan egter nie oud word nie.

In die hemel kry jou onsterflike gees ’n nuwe geestelike liggaam, wat nie oud of siek kan raak nie. Hierdie liggaam bestaan nie uit vleis, bene en bloed nie. Dit is ’n hemelse liggaam.  

In ons skrifgedeelte lees ons van koning Dawid wie se eerste kind by Batseba baie ernstig siek was. Dawid het streng gevas, binnekant toe gegaan en die nagte op die grond deurgebring in hoopvolle verwagting dat die Here die kind genadiglik sal spaar. Hy wou niks eet nie. Dan lees ons dat die kind op die sewende dag gesterf het.     

In 2 Samuel 12: 19 – 23 staan die volgende: “Maar Dawid het gemerk dat sy dienaars onder mekaar staan en fluister, en hy het besef dat die kind dood is. Dawid vra toe vir sy dienaars: ‘Is die kind dood?’ Hulle het gesê: ‘Ja, hy is.’ Dawid het toe van die grond af opgestaan, hom gewas en gesalf en sy klere verwissel. Hy het in die huis van die Here ingegaan en in aanbidding gebuig. Daarna het hy na sy huis gegaan. Op sy versoek het hulle vir hom kos voorgesit, en hy het geëet. Sy dienaars het vir hom gevra: ‘Wat beteken dit wat u gedoen het? Ter wille van die kind wat nog geleef het, het u gevas en gehuil, maar toe die kind dood is, het u opgestaan en brood geëet.’ Hy het geantwoord: ‘Terwyl die kind nog lewend was, het ek gevas en gehuil, want ek het gedink, wie weet, die Here is my dalk genadig, sodat die kind bly leef. Maar nou is hy dood. Waarom sou ek dan vas? Kan ek hom weer terugbring? Ek gaan na hom toe, maar hy sal na my nie terugkeer nie.’

’n Mens kan dapper sterf. Maar ’n mens kan ook soos Dawid die dood van ’n geliefde dapper aanvaar. Dawid was in sak en as toe die kind siek was. Hy het gevas en niks geëet nie. Toe die kind na sewe dae sterf, het hy opgestaan, gewas, nuwe klere aangetrek en by die tempel gaan aanbid. Hy het dapper aanvaar die kind het gesterf en dat hy nou die kind se dood moes aanvaar. Die kind kan nie terugkom na hom nie, maar hy sal eendag na die kind gaan. Die dienaars van koning Dawid was verstom oor sy optrede.

Soos Prediker ook predik: daar is ’n tyd vir alles. Daar is ’n tyd om te treur en ’n tyd om getroos te wees. In Christus Jesus, ons enigste troos in lewe en in sterwe, kan ons dapper die dood in die gesig staar en die dood ook aanvaar met die troos en wete dat Christus klaar die dood oorwin het.

So is dit ook die wil van die Here dat ons mettertyd die dood van Melissa aanvaar en leer om dapper aan te gaan met die lewe.

Dapperheid is een van die mooiste deugde in die lewe. Dit maak van jou ’n Warrior. KI beskryf dapperheid as volg: “Om dapper te wees beteken nie bloot om nie bang te wees nie – dit beteken om iets te doen ten spyte van vrees. Ware dapperheid is nie die afwesigheid van vrees nie, maar die oorwinning daarvan. Dapperheid spruit hier nie uit menslike selfvertroue nie, maar uit vertroue in God se teenwoordigheid. Soms is dapperheid eenvoudig om aan te hou glo en om môre weer op te staan.”

Die wil van die Here is dat ons getroos moet word, met die wete dat Jesus Christus die eersteling is wat uit die dood opgestaan het. Daarom kan ons die dood dapper aanvaar.

Maar die “dal van doodskaduwee” van Psalm 23:4 in die 1953-vertaling is nie ’n maklike plek om te wees nie. Dit vra dapperheid. Daar staan: “Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.” Die dal waarvan gepraat word, is die diep dal of vallei in die bergagtige gedeeltes van Israel, waar die son eerste ondergaan. Omdat dit ook laagliggend is, vloei die water van die berge in die dale af. Daarom is ’n dal ook dig bebos. In die laatmiddag se skemer word dit ook heel eerste onder in die kloof en vallei donker. Die donkerte en die bebostheid maak dit die ideale skuilplek vir struikrowers. Wanneer Dawid as jong seun in die vallei afsak om deur die dal te trek met sy skape, is hy bang vir wat daar vir hom voorlê. Dit is soos ’n doodskaduwee.  Maar dan is hy getroos met die wete dat die Here se stok en staf hom sal beskerm in daardie gevaarlike dal van die dood.

Met die dapper kyk van geloof kan ek ’n barshou kyk, sodat selfs die muur van die dood kraak. Ek moenie vasklou aan die dood nie, maar aan Christus, die Oorwinnaar oor die dood.

Ons sal vir Malissa Klopper mis. Maar Psalm 23: 5 sê dat haar beker oorloop. Sy kort niks meer nie. Sy kom niks kort nie, aangesien sy ’n geestelike verheerlikte liggaam het. Sy het die wedloop van die lewe voltooi.

Ons het nie nou definitiewe antwoorde nie. 1 Kor. 13 sê ons kyk in ’n dowwe spieël. Daarom kan ons nie duidelik sien nie. Ons kan nie verstaan waarom ons emosioneel so moet swaarkry nie. Eendag sal ons verstaan. Eendag sal ons die antwoord hê. Nou kan ons net vaskleef aan God se troue karakter, wat ons wil troos in die aangesig van die dood.

Die dood is toe nie so verskriklik nie. Die Here het die “angel” uit die dood gehaal. Die dood is nie meer gevaarlik nie.

Met ander woorde, ons hoef nie te wonder oor die nuwe geestelike liggaam nie. Dit sal in verheerlikte vorm wees, sonder pyn, seer, siekte, dood en lyding.

Dawid se beker loop oor. Hy kort niks meer nie. Hy het aan niks meer behoefte nie.

Nog ’n voorbeeld van die dappere hantering van die dood is die verhaal van Horatio Spafford (1828 – 1888). (Skrywer van “It Is Well with My Soul”)

Horatio Spafford was ’n prokureur en toegewyde Christen in Chicago in die 1800’s. Hy was ’n man met ’n lewende geloof en ’n vader van vyf kinders. Hy was ’n opregte vriend van die evangelis Dwight L. Moody. Maar sy lewe het ’n pad van verlies geloop. In 1871 in die groot brand van Chicago het hy al sy besittings en sy regspraktyk verloor. Daarmee het sy sakebelange ook in duie gestort en het hy letterlik alles verloor. Hy en sy vrou Anna het besluit om nie hulle geloof te verloor nie. Hulle het besluit om na Moody in Engeland te gaan en daar vir Moody te ondersteun in sy Evangelisasieveldtog. Dit sou ’n nuwe begin wees, ’n manier om oor die verlies te kom.

Toe Horatio hierdie telegram ontvang, het hy onmiddellik per skip na sy vrou in Wallis gevaar. Toe die skip ongeveer regoor die plek gekom het waar die “SS Ville du Havre” gesink het, het die skeepskaptein hom laat roep en in die beheerkamer van die skip vir hom gewys waar die ongeluk wat die lewe van sy vier dogters geëis het, plaasgevind het. Horatio het daar gestaan, sonder enige verwyt teenoor die Here en daarna afgegaan en onder in sy kajuit die volgende bekende lied geskryf: “It is well with my soul.”

“When peace like a river attendeth my way,
When sorrows like sea billows roll;
Whatever my lot, Thou hast taught me to say,
It is well, it is well with my soul.”

Hy het vrede gevind, selfs desnieteenstaande die wrede werklikheid van die dood van sy vier dogters. Die dood het nie die laaste sê gehad nie. Sy pynkreet het ’n lied geword van troos, wat deur eeue duisende ander gelowiges in dieselfde omstandighede vertroos het.

So kan ’n mens dapper met die dood omgaan, omdat jy die pad in geloof stap.

Laat ons ook soos koning Dawid opstaan en sê:  Maar nou is hy dood. Waarom sou ek dan vas? Kan ek hom weer terugbring? Ek gaan na hom toe, maar hy sal na my nie terugkeer nie.”

Wat die voortsetting van die lewe betref, raai ’n Hebreeuse spreuk aan: “Moenie in droefheid sê dat sy nie meer is nie, maar leef in dankbaarheid dat sy was”. Sy was vir 47 jaar deel van hierdie lewe. Sy is geleen en geskenk aan julle. Wees dankbaar dat sy deel van julle lewe kon gewees het, asook dat julle die wonderlike herinneringe aan haar altyd sal kan koester.

Thornton Wilder se waarneming: “Die grootste huldeblyk aan die oorledenes is nie hartseer nie, maar dankbaarheid”. Dr. Seuss het geskryf: “Moenie huil omdat dit verby is nie, glimlag omdat dit gebeur het.” Glimlag omdat sy deel van julle lewe kon gewees het en in herinneringe altyd deel van jul lewe sal bly.

Hierdie kerkgebou is vandag volgepak met meer as 600 mense. Die Marlow Landbouskool het spesiaal gekom om vir Paul te ondersteun. Dit was meer mense by ‘n begrafnis, as ooit tevore in 40 jaar gesien. Dit is almal mense wat vir julle omgee en ondersteun in liefde.

Eli, jy wat ’n lewensmaat verloor het – mag die Here vir jou krag gee om aan te gaan. Weet dat jy ’n ongelooflike goeie man vir Melissa was. Jy was altyd haar rots en haar sterkte. Eloïse, Marelize en Paul, julle wat ’n moeder verloor het – onthou altyd die liefde en die trots wat julle moeder vir julle gehad het. Sy was baie trots op julle. Melissa het geleef vir haar drie kinders. Haar kinders was alles vir haar. Ek is net dankbaar dat sy al drie haar kinders kon grootmaak tot volwassenheid. Ek is dankbaar dat daardie voorreg aan Melissa gegun was.

Cindy, jy wat al die dood van twee kinders moes deurleef – mag die Here vir jou elke môre nuwe krag gee. Jou hartseer is baie groot, maar jou Here Jesus is baie groter as jou hartseer! Morné, jy wat ’n suster verloor het en ook al ’n broer verloor het – mag ook jy die teenwoordigheid van die Here elke dag ervaar. Dankie ook aan skoonsuster Yolandie, vir jou teenwoordigheid en liefde.

Met dapperheid en dankbaarheid, kan ’n mens voortgaan met jou lewe. Onthou hierdie twee woorde asseblief vir die res van julle lewe, as vertroosting.

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

ERKENNING: Verskeie teologiese bronne, naslaanwerke, asook KI (Kunsmatige Intelligensie) is gebruik. Waar KI woordeliks aangehaal word, word dit ALTYD volgens etiese standaarde in aanhalingstekens gekwoteer. Sommige van die foto’s is deur KI geskep.

‘n Dun vel en lang tone

Afrikaans het van die mooiste spreekwoorde, soos byvoorbeeld:  “Iemand het lang vingers”. Dit beteken natuurlik iemand is geneig om te steel. ’n Ander spreekwoord is byvoorbeeld om te sê: ”Iemand het ’n groot kop.” Dit beteken iemand dink baie van homself of haarself.

Nou wat sal dit beteken as ons sê: ”Iemand het lang tone”? Die spreekwoord beteken dat iemand liggeraak is. Liggeraak beteken om gou kwaad te word. Met ander woorde jy trap gou op sy tone, deur die geringste wat jy sê of doen. Natuurlik is die rede vir ’n persoon se liggeraaktheid die behoefte aan aansien en posisie. Daar word soveel energie gemors op mense se liggeraaktheid, want liggeraaktheid veroorsaak konflik. En ons weet hoeveel energie gaan in konflik verlore. Liggeraaktheid kom eintlik neer op hoogmoed.

Om dun van vel te wees beteken dat jy maklik kritiek persoonlik neem en nie dikvellig is vir kritiek nie. Dan kan jy ook maklik jou humeur verloor.

Die Fariseërs en Skrifgeleerdes was uiters liggeraakte mense. Wanneer Jesus teen hulle preek, het hulle rede gesoek om Hom aan te kla en te veroordeel. Hulle het dit uiteindelik reggekry toe hulle vir Jesus laat kruisig het op Goeie Vrydag. Wie was die Fariseërs en die Skrifgeleerdes? Die Skrifgeleerdes het as groep ontstaan na die ballingskap en het baie jare se studie van die wet agter die rug gehad. Hulle was dus die teologiese elite van daardie tyd. Die Fariseërs was weer ’n beweging van ’n groep leke, wat wou toesien dat gewone mense nie hulle godsdienstige pligte verwaarloos nie.

Albei die groeperinge was ingestel op die maak en die nakoming van wette. Daarteenoor het die Here Jesus die onnodige wette uitgevee en die wet vereenvoudig deur die gebruik van die woord LIEFDE.

Ons mensdom is behep met uiterlike vertoon. Die Fariseërs en Skrifgeleerdes het op die straathoeke gebid en barmhartigheidswerk gedoen vir ’n vertoon van godsdienstigheid. Hulle was ingestel op tossels, gebedsbande, aanspreekvorme en die voorste sitplekke. Daarom het Jesus dit juis gehad teen hulle uiterlike vertoon. Om hulle aan te spreek hieroor, was om op hulle tone te trap.

Maar die mensdom het nog nooit verander nie. Die maak van “wette”, en uiterlike vertoon om persoonlike aansien te verhoog, vind steeds elke dag in die samelewing plaas. Status speel ’n groot rol en dit word bevestig deur verskeie verskynsels. Op die Kaapse vlakte word jongmense aangetrek deur die glans van dwelmbase en kriminele vertoon. Bendes trap so op mekaar se tone dat die Kaapse vlakte bekend is vir bende-oorloë. Politici jaag met ’n konvooi van blou ligte roekeloos op die paaie om in elk geval laat op te daag by ’n funksie. Om mense te laat wag vir jou, is mos ’n teken van jou eie belangrikheid.

In ons gelese gedeelte leer Jesus vir ons iets van die beginsels van die Koninkryk. Wie die grootste onder julle is, is bereid om te dien. Jy is dan nie ontsteld as iemand op jou toon trap nie, want dit gaan nie oor jou nie, maar oor God se Koninkryk en die welstand van ander mense.

Mense kan so maklik op ander se tone trap, as iemand hulle byvoorbeeld in die padverkeer benadeel of voor hulle indruk. As ons nie genoeg aandag kry nie, reageer ons dikwels soos iemand op wie se tone getrap word. Iemand moet ons net skeef antwoord, dan is ons gou op ons perdjie. As iemand ons net êrens te na kom, skree ons gou “Eina!”. Ons is dikwels te groot vir ons skoene, omdat ons tone so lank is.

Daarom was ons makliker mekaar se koppe, as om mekaar se voete en tone te was.

Gebrokenheid in jou lewe is dikwels ’n goeie ding. Dit leer jou om nederig te wees. Somtyds moet ons vir die Here dankie sê dat alles nie altyd klopdisselboom verloop in ons lewe nie. Gebrokenheid leer jou om op jou knieë te gaan. Dit leer jou om te buig. Die nederigste mense wat ek ken, is juis hulle wat dit dikwels die swaarste in die lewe gehad het. Verbly jou oor moeilike omstandighede of teleurstellings. Dit is dikwels die leerskool van nederigheid. Jesus ag nederigheid baie hoog. Jesus se plant was die wingerd, wat ondersteuning nodig het. Jesus se dier was die swakke lam. Jesus se voëlsoort was die opregte duif. Jesus se ryding was ’n donkie. (Owen Feltham)

Jesus het nooit kwaad geword vir gebrokenes en nederiges nie. Hy was lief vir die tollenaars, die sondaars, die melaatses, die prostitute, die kinders en sommer vir almal wat nie trots was op wat hulle gedoen het nie. Maar Hy het gou kwaad geword vir die Fariseërs en die Skrifgeleerdes met hulle lang tone en lang gesigte en hulle oppervlakkige vroomheid. Jesus het gereeld op hulle lang tone getrap en altyd ook reaksie gekry. Dit was juis hulle wat Sy dood fyn beplan het en dit ook uitgevoer het.

By die laaste Pasga-ete op die Heilige Donderdagaand, was die dissipels begaan  oor wie aan die Here se regterkant en linkerkant gaan sit, die twee vernaamste posisies. Hulle het ook gesoek na wie die werk van ’n slaaf sou vervul en almal se voete was. Die twaalf dissipels, die twaalf ekke, met hulle twaalf selwe rondom die selfopofferende Messias. In plaas van besorgd te wees oor die naderende kruisdood, is hulle besorgd oor hulle posisie en status by die instelling van die eerste Heilige Nagmaal.

Dan lees ons hoedat Jesus die stinkende langtoonvoete van Sy dissipels was, deur buigend voor elkeen te kniel. Deur die nederigheid van ’n slaaf aan te neem, het Hy die wêreld gered. Daarom is nederigheid een van die hoogste deugde in die Christelike kerk. Daarom, bly altyd in die valleie van nederigheid. Dit is in die valleie waar die waterstrome en die riviere loop. As jy verlang na die strome van seën van Bo, moet jy in die valleie van die lewe loop. Die kruis leer my om nie terug te trap nie”. (KI)

Daarom is dít ook die eienskap van die meeste suksesvolle leiers, naamlik inherente nederigheid. Daar word vertel dat in Princeton, die plek waar Albert Einstein klasgegee het vir die grootste gedeelte van sy lewe, geen monument vir Einstein opgerig is nie. Einstein was teen elke vorm van verering. Die fokus het eerder op die wiskunde en wetenskap geval as op homself. Daarom is daar nie ’n monument van hom op Princeton nie. Sy geniale werk is sy monument, hy het nie nog een nodig nie.

Oor mense met lang tone kan jy boeke skrywe. Mense met lang tone veroorsaak binnepolitiek en oorloë. Langtone veroorsaak kerkpolitiek, soos met die Fariseërs en Skrifgeleerdes. Mense met lang tone skel en wys vingers na ander mense deur die ruit van die motorvenster. Langtone wil nie tereggewys word nie. Langtone gebruik die sosiale media om sy of haar eie beeld te bou en te poets tot by die punt van selfverheerliking. Langtone gun nie ander sukses en voorspoed nie. Langtone is altyd groen van jaloesie oor ander se voorspoed en besittings. Langtone kan nie luister nie en soek altyd sy of haar eie sin.

Dit is nie lekker om saam met ’n langtoon te lewe nie. Hulle is te ongeduldig en humeurig. Langtone word gou opvlieënd en gun nie die son oor ’n ander een se kop nie. In die teenwoordigheid van langtone is jy altyd gespanne. Netnou trap jy op haar of sy tone en dan is die hel los. Langtoonmense is kortgebakerd. Hulle het ’n kort lont en is twisgierig. Hulle soek altyd iets om oor te stry.

In Spreuke 14: 29 – 30 staan daar: “Die geduldige mens  is ryk aan verstandigheid, maar wie kort van humeur is, stel sotheid ten toon. ’n Kalm hart gee lewe aan die liggaam, maar naywer is verrotting in die gebeente.”

Jak 1: 19 – 20 lees in dinamiese ekwivalente Afrikaans as volg:  “Wees stadig om kwaad te word, want die mens se woede bewerk nie die geregtigheid van God nie.”

KI verduidelik dit as volg: “Wanneer iemand sy humeur verloor, reageer hy uit sy “emosionele brein” (die amigdala) eerder as uit sy “redelike brein” (die pre-frontale korteks). Hy ontplof voor hy dink, en sê of doen dinge wat hy later berou.”

’n Mooi beeld wat ek raakgelees het, is dat humeur soos ’n vuurhoutjie is wat maklik aan die brand slaan en op die ou end net rook agterlaat. Die Geesvervulde mens is juis iemand wat selfbeheersing as een van die segmente van die vrug  van die Gees inoefen. Oefen jou elke dag in om met selfbeheersing te leef. As jy in ’n plofbare situasie kan kalm bly en in beheer, het die Gees van die Here vir jou selfbeheersing geleer. As ’n taxi jou uit die pad wil druk, tree selfbeheersd op en bid eerder dat die Here die taxibestuurder se hart sal verander, as om die taxibestuurder te vloek.   

Christus Jesus wil ons kom verlos van ons lang tone sindroom, sodat ons vanuit die Gees begeesterd in selfbeheersing kan lewe.   AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

ERKENNING: Verskeie teologiese bronne, naslaanwerke, asook KI (Kunsmatige Intelligensie) is gebruik. Waar KI woordeliks aangehaal word, word dit ALTYD volgens etiese standaarde in aanhalingstekens gekwoteer. Sommige van die foto’s is deur KI geskep.

Van Melk na Vaste Spys

SKRIFLESING: 1 Kor 3: 2 – 3 en Heb 5: 12 14 en 1 Pet 2: 2 – 3 en Ef 4: 3 –15 en Fil 3: 12 – 13

Wat is geestelike volwassenheid?

Die vraag in vandag se preek is: Wat is geestelike volwassenheid? Wanneer tree jy geestelik volwasse op? Die boek Filippense gee vir ons ’n duidelike antwoord op dié belangrike geestelike vraag.

In die sielkunde onderskei ’n mens tussen vroeë, middel- en laat volwassenheid. Vroeë volwassenheid (20 – 40 jaar) is gewoonlik die tyd wanneer ’n mens belangrike besluite neem in jou lewe soos jou beroep, jou lewensmaat en hoeveel kinders jy wil hê. Middel-volwassenheid, of dan die middeljare (40 – 60), is gewoonlik die tyd in jou lewe waar jy begin nadink oor jou lewe. Laat volwassenheid, of bejaardheid (60+), is gewoonlik die tyd van aftrede. Sielkundige volwassenheid het egter niks te doen met geestelike volwassenheid nie. ’n Mens vind dikwels “volwasse” mense wat baie kinderagtig en onvolwasse optree.

’n Geestelik onvolwasse mens kan net melk verteer. So ’n mens tree onvolwasse op en verstaan nog nie die eise van die Evangelie nie. ’n Geestelik onvolwasse mens word heen en weer geslinger deur onsekerheid en gooi oor alles ’n tantrum. Maar ’n geestelik volwasse mens kan vaste spyse eet en verstaan iets van die loutering van die geloof.  So iemand kan vasstaan in die ergste beproewinge en ’n sterker mens anderkant uitkom.

Geestelike volwassenheid het te doen met jou verhouding met God en met jou medemens. Dit het ’n diep geestelike karakter. Geestelike volwassenheid, skryf Paulus, is nie iets wat jy kan bereik of waar jy by ’n punt kom en sê jy is nou geestelik volmaak nie. Geestelike volwassenheid, skryf Paulus, is eerder ’n reis, ’n proses, of ’n doelwit wat jy nastreef.

Daarom skryf Paulus in Fil 3: 12: “Ek sê nie dat ek dit alles al het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het.” In die Grieks is dit ook iets waaraan ek werk (’n proses) met die oog op die bereiking daarvan in die toekoms. Daarom is geestelike volwassenheid iets wat ons lewenslank besig is om te word.

Dit is soos die saadjie wat ontwikkel tot ’n  groot boom. Vir die saadjie om te groei tot ’n volwasse boom is ’n lang, voortdurende proses. Die jaarringe van die boom is simbolies van jou reis met God. Soos ’n mens die geskiedenis van ’n boom kan lees in die jaarringe, kan ’n mens ook in jou reis met God die jaarringe lees en vind hoe God jou telkens deur voorspoed en teenspoed gevorm het om die mens te wees wat jy vandag is.

Geestelike volwassenheid is ’n reis na binne, na die siel toe. Dit is om van binne vernuwe te word, om algaande tot volle geestelike volwassenheid te kom.

Geestelike volwassenheid kom deur ervaring. Deur ons foute en mislukkings leer ons om beter en meer ervare te word in ons geestelike lewe. Daarom praat ons dikwels in die kerkgeskiedenis van die kerkvaders en -moeders. Dit is hulle wat met die Evangelie oud geword het. Hulle wat geval het en weer opgestaan het.

Geestelike volwasse mense is soos ronde rivierklippe wat deur die vloei van die rivier ’n unieke bepaalde karakter gekry het wat aan hulle besondere skoonheid gee – soos die geloofshelde van Hebreërs.

Die boek Hebreërs praat van  geloofshelde wat oor ’n lang tydperk in hulle geloof gevorm is. Dit is geloofshelde wat aan God vasgehou het, selfs in die aangesig van die ergste beproewinge. Hulle was getrou aan God tot die bitter einde, totdat hulle hul laaste asem uitgeblaas het.

Geestelike volwassenheid is om jou los te maak van die ou sondige mens en jou hele lewe te rig op Jesus Christus. Daarom sê Fil 3: 13b : “Maar een ding doen ek, ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is.” Mense wat in gister se verbittering, onvergewensgesindheid en ou twiste bly lewe, kan nie groei na geestelike volwassenheid nie.

Somtyds moet ’n mens ’n potplant verplant uit sy ou houer met dooie grond in ’n nuwe houer met vars, ryk komposgrond. So moet ek uit my verlede verplant word in die ryk komposgrond van die bevrydende Evangelie.

Somtyds kry ons dit nie reg om die verlede te begrawe nie. Ons wil in die ou grond bly leef. Daarom roep Paulus ons op om ons los te maak van alles in die verlede wat ons kan terughou op ons pad van geestelike volwassenheid. ’n Noodsaaklike tree na volwassenheid is om verantwoordelikheid te aanvaar vir jou eie en vir ander se lewe. Dit beteken om met commitment te lewe. Geestelike volwassenheid is om met toewyding te lewe. Paulus gebruik die woorde: “Ek span my in om by die wenstreep te kom”. Ons moet as’t ware onsself geestelik inspan om God en ons medemens te dien.

Die probleem van die post-moderne mens is dat hy / sy net aan die self verbonde is. Ons word verbruikers van die godsdiens. Ons wil onsself nie meer “inspan” in ons godsdiens nie. Nee, ons wil byvoorbeeld ontspanne op die rusbank na ’n kerkdiens oor die televisie luister.

Dit is te veel inspanning om betrokke te wees in die kerk en die gemeenskap. Ons wil gedien word in plaas van om te dien. Dan wil ’n mens in ’n “seepborrel” leef, wat steriel wil lewe, apart van die res van die gemeenskap.  Die post-moderne mens raak los van God, en raak nie meer betrokke by ander mense en in die gemeenskap nie. Dit lei tot enorme vereensaming van hierdie post-moderne mens wat sonder enige verantwoordelikheid wil lewe. Dan is jy geestelik onvolwasse.

’n Geestelik onvolwasse mens wil net ontvang, soos ’n kind of ’n tiener. ’n Geestelik onvolwasse mens het nog nie geleer om verantwoordelikheid te aanvaar vir die kerk en gemeenskap en om die wêreld te transformeer nie.

Daarom moet die kerk ’n oorlogskip wees en nie ’n passasierskip nie. Op ’n oorlogskip is daar nie plek vir passasiers nie. Elke manskap het ’n verantwoordelikheid. Daarteenoor is ’n passasierskip vol mense wat ontspanne slegs bedien wil word.

Geestelike onvolwassenheid het ook baie daarmee te doen dat die mens nie meer kan volhard nie. Ons raak emosioneel en vergeet om God te dien en te volhard in ons geloof wanneer die pad somtyds ’n woestynpad word met min oases.

Volharding is om aan te hou al is my motivering laag of al is ek “nie lus nie”. Dit is om aan te hou om op die goeie pad te bly waarop ons begin het. Dikwels sien ’n mens by langafstandwedlope of marathons dat atlete langs die pad moeg word, uitsak en die wedloop staak.

Paulus roep ons egter op in Filippense om in die goeie wedloop van die geloof te volhard en die wenstreep in die oog te hou. Dikwels kan die sorge van die lewe of geestelike lamheid en geestelike luiheid ons laat struikel en laat ophou om die wedloop van die geloof te hardloop. Daarom moet ons Christus voor oë hou, sodat ons nie veragter in die geloof nie. Geestelike volwassenheid het dus alles te doen met volharding in jou geestelike verantwoordelikhede.

Ons het nou die vraag beantwoord: Wat laat jou groei tot geestelike volwassenheid? Die vraag is nou wat is geestelike volwassenheid?

Dit beteken om met geesvervuldheid altyd VOLWASSE in die Geestesgawes van die Gees op te tree. Gal 5 praat van liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.

KI beskryf so mooi die vrug van die Gees met sy segmente. Ek haal KI aan: “Paulus gebruik die enkelvoud “vrug”, nie “vrugte” nie – wat beteken dit is een vrug met nege segmente: die een Gees bring al hierdie eienskappe voort as een geheel.

Let op dat Paulus die enkelvoud, nie die meervoud, gebruik  nie – die een vrug van die Gees het dus nege segmente.

Die nege segmente van die Vrug:

  1. Liefde (agapē) – Die kern van alles. ’n Self-opofferende, onvoorwaardelike liefde wat ander se belange eerste stel.
  2. Blydskap (chara) – Nie oppervlakkige geluk nie, maar innerlike vreugde wat op God gegrond is.
  3. Vrede (eirēnē) – Innerlike rus en harmonie met God, met ander, en met jouself.
  4. Lankmoedigheid (makrothumia) – Geduld, verdraagsaamheid teenoor mense en situasies.
  5. Vriendelikheid (chrēstotēs) – Sagte goedhartigheid, ’n gees van hulpvaardigheid.
  6. Goedheid (agathōsynē) – Morele integriteit; om goed te doen selfs teen koste.
  7. Getrouheid (pistis) – Betroubaarheid en geloofsvastheid, in verhouding tot God en mense.
  8. Sagmoedigheid (praütēs) – ’n Gees van nederigheid, krag onder beheer.
  9. Selfbeheersing (enkrateia) – Beheersing van drange en emosies; lewe onder die leiding van die Gees, nie deur die vlees nie.

Daarteenoor is ’n geestelik onvolwasse persoon vol van onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodediens, towery, vyandskap, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge.

Daarom is ’n geestelik volwasse mens iemand wat onder die beheer en die leiding van die Heilige Gees staan. ’n Geestelik volwasse mens is onder nuwe bestuur. Dit is nie meer die “eie ek” nie, maar wat is die wil van God vir my lewe.

’n Geestelike volwasse mens is ook iemand wat nie van ander mense sleg praat en hulle beskinder nie. Daarom waarsku Jakobus ons oor die tong wat jou so maklik kan laat struikel. As jy nie iets goeds van iemand kan sê nie, bly stil. Sien die goeie in elke mens raak en praat daaroor. Dan is jy geestelik volwasse en kan jy jou tong beheer.

’n Geestelik volwasse mens is toegewyd aan God, die Here se kerk en aan sy medemens in die gemeenskap. Volwassenheid het alles te doen met VERANTWOORDELIKHEID. Ons mag nie ons geestelike verantwoordelikhede verwaarloos of vergeet nie.

Ons moet nie by die melk bly nie. Ons moet ontwikkel in ons geloofslewe, sodat ons ook die vaste spyse van die geloof kan geniet – soos die geloofshelde van Hebreërs.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

ERKENNING: Verskeie teologiese bronne, naslaanwerke, asook KI (Kunsmatige Intelligensie) is gebruik. Waar KI woordeliks aangehaal word, word dit ALTYD volgens etiese standaarde in aanhalingstekens gekwoteer. Sommige van die foto’s is deur KI geskep.

Die Kuns van Tevredenheid

SKRIFLESING: Luk 12: 13 – 21 en Psalm 16: 5 – 6

Ons mense is altyd geneig om te dink as ons ryker was, of mooier was, of maerder was, of meer geleenthede het, sal dit met ons beter gaan. Ons is geneig om met alles ontevrede te wees en altyd daarna te strewe om meer te besit. Daarom dink ons baie keer dat materiële dinge geluk kan koop.

Dit laat ’n mens dink aan die mitiese verhaal van Koning Midas wat verskriklik graag ryk wou wees. ’n Feetjie het eenkeer sy ongelukkigheid raakgesien en hom gevra wat makeer. Hy het geantwoord dat hy ook graag ryk wou wees soos die ander konings, dan sou hy gelukkig wees. Die feetjie het sy wens aangehoor en vir die koning gesê dat alles waaraan koning Midas sou raak, in goud sou verander. Die koning was skepties, maar tog bly.

Sowaar, alles waaraan die koning geraak het, het spoedig in goud verander. Dit was wonderlik hoe koppies, glase, mure, beddens, ja alles in goud verander. Spoedig was hy die rykste koning en dit het hom baie bly gemaak. Almal het na hom opgesien.

Maar spoedig het die nuutheid van sy gawe verdof – dit was nie meer so lekker dat alles in goud verander het nie. Selfs die gras, die bome, die blomme het alles in dooie goud verander. Koning Midas het begin nadink hoe hy die groen gras en die bome se blare en die reuk van die blomme mis en hy het bitterlik begin huil. Hy het besef dat goud en rykdom nie alles is nie.

Toe kom koning Midas se dogter in om hom te vertroos. Toe sy aan hom raak,  het ook sy in goud verander. Nou was koning Midas totaal eensaam; sy sug na rykdom het ook sy enigste dogter van hom weggedryf. Hy was nou alleen met al sy goed, maar sonder enige vreugde.

’n Mens kan inderdaad in ’n wêreld van goud leef, maar totaal eensaam wees! Dit is waaroor die gelykenis van die ryk dwaas in ons gelykenis handel. [Luk 12: 13 – 21] Ons lees van die ryk man wie se oes baie opgelewer het. Daar is niks verkeerd met die feit dat hy sukses behaal het nie. Die probleem lê nie in die sukses wat hy behaal het nie, maar eerder in sy selfsugtige reaksie en optredes daarop. As ’n mens in die Grieks daarna kyk, kom die persoonlike voornaamwoorde “ek” en “my” meer as tien keer voor in die kort perikoop. Sy hele wêreld het net om homself gedraai. Hy praat selfs met sy “eie siel”, asof hy dit ook besit. Ek haal KI aan: “Die man het materiële voorsiening, maar geen spirituele insig nie. Hy maak planne vir jare, maar ignoreer die een nag wat alles beëindig.”

KI sê verder: “Die woord “dwaas (ἄφρων)” beteken nie dom nie, maar moreel onverstandig – iemand wat sy lewe bou sonder om God in te reken (vgl. Ps. 14:1). Die ryk man wou meer en meer hê en het sy skure vol gemaak. Maar ewige geluk het hom ontbreek. In een nag het hy alles verloor. Die dood het hom kom haal, nog voor hy sy goed kon geniet. Die gelykenis sê daarom dat ’n mens jou skat by God moet bymekaar maak, want eers dan het jy permanente rykdom.”

Natuurlik kry ’n mens ryk en arm dwase. ’n Dwaas is iemand wat dink dat geld vir hom geluk kan koop. Daarom kan ’n arm man ook ’n dwaas wees as hy dink geld alleen sal vir hom vreugde bring.

Geld is soos seewater – hoe meer jy drink, hoe dorser word jy. Dit is waarom die Nasionale Lotery mense so aangryp. Jy droom nie van hoe jy ander kan help nie, maar eerder wat ek met dié miljoene kan doen.

Materialisme bring indiwidualisme (elkeen vir homself), wat weer eensaamheid meebring. So aborteer ons God en ons medemens uit ons lewe. Ons verloor ons deernis en medelye met ons medemens. Ons verval in depressie, want ons leef vir onsself en nie vir ’n hoër doel nie. Daarom het ons niks meer om voor te lewe nie. So verloor ons die hoop en die sin van ons eie lewe.

Ons is so gespanne oor die dinge wat ons kan verloor, dat ons in spanning, depressie, gejaagdheid, minderwaardigheid en angs lewe. Inderdaad word ons goed ons god. Ons kan maklik sê, maar ek sal nie val vir die geldgod nie. Maar die geldgod vang ons.

Luister na die verhaal van Ds. Walter Luthi, ’n Duitse teoloog: Hy vertel van die geslepe ou jakkals wat ’n plattelandse dorpie geteister het. Elke nag het hy hoenders, duiwe en lammers gevang.

’n Paar opgeskote seuns het besluit hulle sal hom vang, ’n tou om sy nek bind en met hom deur die strate paradeer. So sal hulle die onbetwiste helde van die dorp wees. So gesê, so gedaan. Met ’n gelukskoot kom hulle op die lê-plek af. Dadelik kommandeer hulle die jongste onder hulle, die skraalste, om by die gat in te kruip, natuurlik om die jakkals te vang en uit te bring. Vol bravade duik die seun in die gat in. Triomfantelik roep hy: “Ek het hom. Ek het hom. Ek het hom!” Maar toe begin die grond te bewe en die stof slaan op. Doodsbenoud roep die seun: “Hy het my! Hy het my! Hy het my! Eina! Hy het my!” So gaan dit ook met materiële dinge. Jy dink nog jy beheer dit, dan beheer dit jou.

Dit is juis hierdie geldgod wat twiste bring in families en in huwelike en selfs tussen lande. Baie van Afrika se oorloë gaan oor bloeddiamante en olie. Dan geld natuurlik die wet van die oerwoud, “Die sterkste wen.” Twiste, stryd, oorlewing, maak dat mense soos die diereryk elkeen vir homself baklei en nooit die ander raaksien nie.

Dit is soos ’n venster. Kyk ’n mens deur die venster, dan sien jy ander mense raak. Verf jy ’n lagie silwer agterop, dan sien jy net jouself.

Wie vir homself lewe, lewe sonder vreugde en sonder hoop. So ’n mens sterf ook sonder sekuriteite, want ’n doodskleed het geen sakke nie. Die Woord sê egter dat God wil hê dat ons in vreugde en blydskap en in eenvoud moet lewe, met die kinderlike vertroue dat God vir ons sorg. Ons moet leer om te minimaliseer, ons hoef nie alles te hê nie.

Dit beteken om tevrede te wees met die erfdeel en ook die besittings en talente wat God aan jou toevertrou het. Jy moet nie jou bure se skure of besittings begeer nie.

Daarom moet ons minimalisme   najaag. ’n Mens kan met min ook gelukkig wees. Wonderbaarlik is hoe mense wat eenvoudig lewe, dikwels die gelukkigste is. Hulle skat is in die hemel.

Ons moet dinge koop oor hulle nuttigheid en nie oor die status wat dit vir ons gee nie. (Of om mense te beïndruk nie)

Ons moet leer om te kan weggee. (Gawes)

Ons moet leer om in afhanklikheid voor God te lewe. (Saligsprekinge)

Ons moet leer om te bid: “Ons Vader, gee ons vandag ons brood.” Ons moet leer om in dankbaarheid te lewe – liewer ’n halwe skewe brood met vrede, as ’n huis vol kos met ’n getwis daarby.

Ons moet leer om ongekompliseerd te lewe.

Ons moet waardeer wat ons het – soos die Slamaier wat op die parade in Kaapstad vir die deftige dame wat kla oor alles wat so duur is, gesê het: “Madam djy moenie kla nie, ons het elke dag ’n gratis trip om die son.”

Geniet die dinge wat God vir jou gegee het, al is dit nie die luuksste of nuutste op die mark nie. Geniet die lewe saam met jou eggenoot en jou kinders. Geniet die lewe.

Geniet die dinge wat geld en goud nie kan koop nie, soos ’n park, ’n biblioteek, ’n katedraal. ’n Mens hoef nie iets te besit om dit te geniet nie. Geniet in oorgawe die lewe, die skepping, die seisoene, mense, jou lewensmaat, jou kinders, jou vriende, jou gesondheid of ’n boek.

Iemand het eenmaal gesê dit is genade om nie te veel te hê nie en dit is ook genade om nie te min te hê nie. Ernst Schumacher het gesê: “Small is beautiful.”

Leer om die klein dingetjies in die lewe te geniet. Wanneer ek bid: “Lord, let your Kindom come!” moet ek ook bid: “Lord, let my kingdom go.”

Leer om in eenvoud en in vreugde te lewe. Ons grootste skat is nie wat ons besit nie, maar wat in ons is, naamlik die geloof in Jesus Christus ons Here. Niks en niemand kan ons hiervan beroof nie. Daarom sê die Heidelbergse Kategismus dan ook by Vraag 1: “Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?”

Dan antwoord die Kategismus: “Dat ek met liggaam en siel, in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort. Hy het met Sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so ’n wyse, dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien …”

Wat is meer vertroostend as om te weet ek hoef nie vas te hou aan my aardse skatte nie, maar dat God my vashou en dat elke haar op my kop getel is.

Daarom moet ’n Christen die kuns aanleer om onder alle omstandighede tevrede te wees. Tevrede mense is nie jaloers nie. Tevrede mense kla nie oor die goed wat hy of sy nie het nie. Tevrede mense geniet die klein goedjies in die lewe. Tevrede mense is vrygewig. Tevrede mense vergelyk hulleself nooit met ander mense nie.   Tevrede mense is vervul met die Heilige Gees, wat in alle omstandighede dankbaar is.  Dankbare mense is mooi mense. Ons moet elke dag die kuns van tevredenheid en dankbaarheid aanleer.   

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.) 

ERKENNING: Verskeie teologiese bronne, naslaanwerke, asook KI (Kunsmatige Intelligensie) is gebruik. Waar KI woordeliks aangehaal word, word dit ALTYD volgens etiese standaarde in aanhalingstekens gekwoteer. Sommige van die foto’s is deur KI geskep.

‘n Handjievol wat die Wêreld verander

SKRIFLESING: Num 13: 26 – 33

Negatiwiteit verkoop. Mense slurp negatiwiteit op, daarom verkoop koerante so goed. Dikwels by braaivleisvure kan mense net oor negatiewe goed gesels. Ons hele land is in ’n greep van negatiwiteit. Daar is soveel geweld, politieke moorde, korrupsie, die oorloë in Ukraïne en Gasa, Iran en ander plekke, asook ekonomiese onstabiliteit en nog baie ander negatiewe dinge wat ons gedagtes oorheers. Die gevaar is dat ons lewens beheer word deur negatiwiteit. Die meerderheid Suid- Afrikaners is negatief en die minderheid is positief. Dit werk altyd so in die lewe.

In ons gelese gedeelte in Num 13: 26 – 33 lees ons hoedat Moses beveel het dat twaalf verspieders, een uit elke stam, die land Kanaän moet verken. Hulle was soos verkenners of spioene wat moes terugkom en verslag doen van die positiewe en die negatiewe wat hulle in die land Kanaän gesien het.

Na 40 dae het hulle teruggekom en vertel dat die land uiters vrugbaar is en het selfs van die vrugte van die land gewys. Dit was inderdaad ’n land van melk en heuning. Maar, het die meerderheid verspieders gesê, die land se inwoners is baie groot en sterk en hulle stede is versterk en groot. Hulle het ook die reuse gesien, wat nasate van Enak was. Die meerderheid verspieders het gesê dit is onmoontlik om die land Kanaän in besit te neem. Hulle het gevoel soos sprinkane teen die reuse van daardie land en so was hulle ook in die oë van die Kanaäniete.

Toe het Kaleb egter ’n minderheidsverslag uitgebring en gesê dat die land wel verower kan word, deur die krag van die Here. Josua het ook vir Kaleb ondersteun, en benadruk dat die land wel verower kan word as die Here saam met hulle trek. Daar was dus ’n meerderheidsverslag wat negatief was en ’n minderheidsverslag wat positief was. Die hele volk het egter die negatiewe meerderheidsverslag geglo en het as’t ware in opstand gekom teen Moses en Aäron. Josua het egter gepleit dat die volk nie moet wegdraai van die Here nie. Die Here sal hulle help as hulle positief bly.

Die minderheid het die meerderheid gewen, omdat hulle aan die kant van God was. Net so moet ons as Christene, al is ons in die minderheid, glo dat ons ’n verskil kan maak in hierdie land vol van negatiewe dinge. Ons moenie verval in negatiwiteit nie, maar positief glo dat ons deur die krag van God ’n verskil kan maak.

Daarom het Josua ook in Num 14: 8 gesê dat die volk nie teen die Here in opstand moet kom nie.

Die fout wat ons dikwels maak is om God aan ons kant te wil hê. Ons gebruik God dus soos ’n pion wat ons rondskuif vir ons eie belange. In baie lande se volksliedere word God as pion gebruik. Dink byvoorbeeld aan die Engelse vokslied: “God save the queen”. Ons voorouers het dikwels gepraat van “Volk, vaderland en God.” Hitler het God ook gebruik in sy ideologie, en miljoene mense doodgemaak.

Wanneer twee lande oorlog maak soos in die Anglo-Boereoorlog, het die Engelse en die Boere albei gebid dat God tog aan hulle kant moet wees. Dan misbruik ’n mens God.

Ons moet nie probeer om God aan ons kant kry nie, maar ons moet eerder kies om aan God se kant te wees. Wanneer ons aan God se kant is, sal ons die regte etiese keuses maak en sal God ons help.

Daarom het Josua gesê dat die volk aan God se kant moet wees en dan sal God vir hulle die oorwinning gee. En die Here het ook vir hulle die oorwinning oor die Kanaäniete gegee.

Die Here gebruik minderhede en swak mense om oorwinnings te behaal in Sy naam.

  • Die hakkelende Moses het sy volk uit Egipte gelei.
  • Die seun Dawid het vir Goliat verslaan.
  • Die Gideonsbende van 300 man het die oormag van Moabiete verslaan.
  • Paulus, met die doring in die vlees, het God magtig gebruik.

Belangrik is egter dat jy aan God se kant moet wees! Moenie God gebruik om aan jou kant te wees en jou belange en agendas te dien nie. In voorspoedsteologie word God dikwels as ’n pion gebruik om mense te verryk en vir hulle persoonlike voordeel te bring. Dit gaan dan eerder daaroor wat God vir jou beteken, as wat jy vir God beteken.

Daarom moet ons soos Kaleb en Josua positief bly, ten spyte van moeilike omstandighede. Ons moet vertrou dat as ons aan God se kant is, God ons sal help met elke moeilikheid en in moeilike omstandighede. Positiewe mense is altyd in die minderheid. Maar dit is juis hulle wat die verskil maak in die samelewing. Negatiewe mense word verlam deur die probleme, maar positiewe mense maak ’n verskil.

Die Voortrekkers het ten spyte van bedreiging, positief gebly en God vertrou vir ’n oorwinning. Net so moet ons God ook vertrou in ons moeilikhede en Hy sal help, ook as die nood op sy hoogste is.

Vir byna twee jaar het die bemanning in die oorblyfsel van die skip oorleef in donkerte en koue. Feitlik al sy bemanning was negatief en moedverlore, sonder enige hoop. Shackleton het egter positief gebly.  Shackleton het die rantsoen op die skip elke dag sorgvuldig verdeel, sodat hulle so lank moontlik aan die lewe kon bly. Hy het sy bemanning met humor opgebeur en nooit paniek gewys nie.

Shackleton het toe met ’n paar manne in ’n oop reddingsboot die yssee oorgesteek  – 1 300 km ver – om hulp te gaan soek. Ná byna twee jaar het hy daarin geslaag om al die manne veilig en lewend huis toe te bring. Nie een van sy manskappe het verkluim of doodgegaan nie. Almal het oorleef, na bykans twee jaar van ’n koue hel.

Almal het oorleef, danksy sy positiewe ingesteldheid. Een man se positiewe ingesteldheid het ’n klomp manskappe van ’n gewisse dood gered.

KI haal die manskappe se woorde aan:  “Die mense wat saam met Shackleton oorleef het, het later gesê: ‘Hy het ons nie net fisies gered nie – hy het ons gees lewendig gehou.’”

So ook in Auschwitz het enkele gevangenes ander lewend gehou deur in die koue nagte in die barakke hulle medegevangenes met stories van hoop aan die lewe te hou. Hulle het positiewe stories van toekomstige hoop hardop “verbeel” saam met hulle medegevangenes.  Dit het ’n anker geword waaraan hulle vasgehou het. Wie positief was, het ’n baie groter kans gehad om die konsentrasiekamp te oorleef.

So is die boek Hebreërs vol verhale van geloofshelde wat positief gebly het in moeilike omstandighede en vasgehou het aan hulle geloof. Al het dinge hoe donker gelyk vir die geloofshelde het hulle in geloof aan God vasgehou en feitlik die onmoontlike vermag. In hulle stryd om getrou te bly aan hulle geloof, het hulle geloof net sterker gegroei. Dit is soos wanneer jy ’n boom onder stres plaas, deur byvoorbeeld vir ’n sitrusboom ’n ring aan te sit, of om die boom te snoei. Onder daardie stres dra die boom baie meer vrug.

Wees jy die vlam van ’n positiewe geloof. Daar is nie genoeg duisternis om daardie vlammetjie se lig uit te doof nie. Ons het dit so nodig, almal wat onder hierdie skewe reënboogvlag lewe.

Suid-Afrika kort positiewe mense. Wees jy deel van die minderheid wat op God vertrou vir uitkoms! Sy hulp is naby vir elkeen wat Hom soek.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

ERKENNING: Verskeie teologiese bronne, naslaanwerke, asook KI (Kunsmatige Intelligensie) is gebruik. Waar KI woordeliks aangehaal word, word dit ALTYD volgens etiese standaarde in aanhalingstekens gekwoteer. Sommige van die foto’s is deur KI geskep.

Skepping – ‘n Heilige Erediens

SKRIFLESING: Psalm 8: 1 – 10 en Romeine 8: 22

Johannes Calvyn het gesê dat die onsigbare God Homself sigbaar maak in baie gestaltes. Veral Sy skepping is ’n vingerafdruk van God se teenwoordigheid.

Calvyn het in sy Institusie van God se skepping gepraat as die Teatrum Gloria Dei. God het die skepping gemaak as ’n verhoogteater, waar God kan terugsit en waardeer wat Hy gemaak het. Hy beskryf dan ook die twee maniere waarop God Homself openbaar, naamlik deur Sy Skrif, wat ons die weg van verlossing aandui wat ons die Besondere Openbaring noem. Die Algemene openbaring is die natuur en skepping, waarin ons kan sien daar is ’n almagtige en heerlike God wat dit alles geskep het. Die Algemene openbaring leer ons daar moet ’n God wees en die Besondere Openbaring leer ons die weg na God en die saligheid toe.

Psalm 8 is ’n lofpsalm van Koning Dawid, waar hy ook die grootheid van God besing. The Message-vertaling van Eugene Peterson vertaal vers 1 as volg: “GOD, brilliant Lord, yours is a household name.”

Psalm 8 het tien verse. Vers 2 en vers 10 omarm as’t ware verse 3 tot 9. In beide verse word die refrein herhaal: “Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde!” So begin en eindig hierdie lofpsalm van Koning Dawid. Die verdere indeling van die Psalm is as volg: Verse 3 – 4 vertel van die grootheid van die skepping en verse 5 – 9 verklaar die verantwoordelikheid van die mens teenoor die skepping. Die skopus van Psalm 8 sou ’n mens kon opsom met die volgende: Respek en sorg vir God se wonderbare skepping.

Vers 3 tot 4 besing die grootsheid van God. Hulle wat met kinderlike oë na God se skepping kyk, kan nie anders as om Hom te besing nie. God se teëstanders, hulle wat te groot vir hulle skoene geraak het, die ateïste, staan stomgeslaan en kan nie God se skepping verklaar nie.

Inderdaad is God se werk te sien in die makro-kosmos, asook in die mikro-kosmos. Jy het ’n teleskoop nodig om die oneindige dieptes van die heelal te verken en jou te verwonder aan die sterre en planete. God is nog steeds skeppend besig om aan nuwe sterre en planete geboorte te gee.

Maar jy het ook ’n mikroskoop nodig om die mikroskopies-klein wêreld en die geboorte van nuwe selle waar te neem. God is die God van sterre en mikroskopiese atome. Ons woon op ’n wonderskone planeet met soveel verskeidenheid, dat natuurwetenskaplikes nog steeds nuwe ontdekkings maak. God is die God van wiskunde, fisika, chemie, elektronika en elke wetenskap wat aan universiteite nagevors word. God het geskep, ons kan maar net ontdek en in verwondering staan. Universiteite ontdek maar net deur navorsing dit wat God geskep het.

As jong seun het Dawid lang tye in die veld deurgebring om die skape op te pas. Hy was dus in diepe verwondering as hy die hemelruim in die aand dopgehou het. As veldkind het hy homself ook verwonder aan die natuur rondom hom. Maar Dawid was diep bewus van sy kleinheid en sy afhanklikheid.

Daarom was hy verwonderend oor die feit dat God soveel verantwoordelikheid aan die mens gegee het. Dit bring ons by verse 5 – 9, wat handel oor die verantwoordelikheid wat God aan die mens gegee het.

God het die mens gekroon as Sy verteenwoordiger, amper ’n hemelwese.

Ons het die skepping van God ontvang, so lees ons in Gen 2:15. Dit beteken ons moet dit bestuur en oppas. Dit is ’n uitdruklike opdrag. Ons moet die skepping oppas, sodat ons dit gesond vir ons nageslagte kan aangee, wat ook nog op hierdie planeet moet leef.

Hierdie mens moet met verantwoordelikheid regeer oor alles wat God gemaak het. God wil hê ons moet sorgsaam wees met sy skepping. Dit is deur te versorg, dat jy ’n mens is. Maar helaas, ons vernietig die mooie skepping met ons selfsug, hebsug en gierigheid. Boere kla dikwels oor die bobbejane wat hulle vrugteboorde verwoes en oral skade aanrig. Hoe moet God nie voel as die mens oral waar hy kom, skade aanrig in God se wonderskone skepping nie. Hoe meer die mens ontwikkel, hoe meer word die rommel wat hy weekliks weggooi. In die ou tyd was die rommel en asgate baie kleiner, want mense het verbruiksartikels oor en oor gebruik. Ons lewe in ’n era waarin alles netjies verpak word, om maar net die verpakkingsmateriaal weer weg te gooi. So gebruik ons die grondstowwe op, tot nadeel van opkomende geslagte. Ons besoedel die lug, die grond, die water en die see. Die osoonlaag word deur ons beskadig, wat lei tot aardverwarming met katastrofiese gevolge vir die toekoms. Die hartseerste is dat die Amerikaanse president Donald Trump, Amerika onttrek het uit die klimaat-akkoord wat Obama in Parys onderteken het. Trump wil Amerika weer groot en ryk maak, ten spyte  van die gevaar van klimaatsverandering. Hier volg die feite volgens KI: “ President Obama het ’n leidende rol gespeel in die onderhandelinge. Hy het die VSA verbind tot die doel om die wêreld se gemiddelde temperatuurstyging onder 2 °C te hou, met ’n mikpunt om dit tot 1,5 °C te beperk. In Junie 2017 het president Donald Trump aangekondig dat die VSA uit die ooreenkoms sou onttrek, met die argument dat dit die Amerikaanse ekonomie en werksgeleenthede benadeel. Volgens die bepalings van die ooreenkoms kon ’n land eers drie jaar ná inwerkingtreding begin onttrek. Die formele Amerikaanse onttrekking het eers op 4 November 2020 in werking getree. Toe Joe Biden president geword het in 2021, het hy ’n dekreet onderteken om die VSA weer by die ooreenkoms te laat aansluit. Op 19 Februarie 2021 het die VSA formeel weer deel geword van die Parys-ooreenkoms. In 2025, by die begin van sy tweede termyn, het President Trump dekrete uitgereik om die VSA opnuut uit die Parys-ooreenkoms te onttrek.”

So is die mag na rykdom en om Amerika weer groot te maak, belangriker as die gevaar van klimaatsverandering. Kortstondige voorspoed, maar toekomstige vernietiging van die planeet. Dit is uiters kortsigtige leierskap, wat geen toekomsvisie het wat vir ons planeet goed sal wees nie.

Daarom gaan die Evangelie nie net oor die redding van siele nie. Die Evangelie gaan ook oor die redding van die skepping. Rom 8: 22 sê die volgende: “Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting.” God se reddingswerk is kosmologies en daarom moet ons inval om die skepping te red en te beskerm.

Een van die nadele van kolonialisme was dat lande soos onder andere Brittanje, Afrika se hulpbronne verslind het, ten einde skatryk te word. Die diamant- en goudstormloop van meer as ’n eeu terug is die beste voorbeeld, en wat boonop uitgeloop het op die verwoestende Anglo-Boereoorlog. Dikwels word Afrika uitgebuit deur ander lande, soos wat die Chinese tans met Suid-Afrika doen.

Die voorgestelde skaliebreking in die Karoo deur Shell is ook ’n voorbeeld hoe die Karoo se grondwater besoedel kan word. Dit sal ook die skoonheid van die Karoo vernietig. Kortstondige wins vir Shell, met permanente skade aan die natuur vir almal. Gelukkig het Shell in 2015 onttrek uit die ontwikkeling.

Christene is mense wat herwin, wat “groen” dink en wat spaarsamig met grondstowwe omgaan. Christene is ingestel op natuurbewaring. Christenboere oorbewei nie hulle veld nie. Christene gooi nie hulle rommel in die strate nie. Christene bewaar die oseane vir die nageslag. Christene gebruik eerder wind-energie, as om steenkool te verbrand om energie te gee.

Alles kom neer op twee woorde: RESPEK en SORG. Ons moet God se handewerk respekteer en daarvoor sorg. Daarom is ons na die beeld van God gemaak. Wie van die natuur steel, steel van God. Daarom moet ons “lig leef op God se grond en hande hê wat heel en nie breek nie,” beskryf KI dit. 

Vers 6b sê dat ons ons outoriteit van God kry, want Hy het ons met aansien en eer gekroon. Sonder God is ons niks. Daarom moet ons ons outoriteit oor die skepping met verantwoordelikheid beklee. Daarom moet ons nie net die Evangelie van verlossing aan mense bring nie, ons moet ook die Evangelie van verlossing aan die skepping bring, deur bome te plant en die skepping te genees van die wonde wat die mens dit toegedien het. Die skepping is gemaak dat die mens en God dit moet geniet. Daarom moet ons die skepping met RESPEK en SORG waardeer en al die lof aan die Here bring. Ons eer die Here as ons Sy skepping oppas.

KI beskryf dit so mooi: “Wanneer ons sê ‘die natuur is ’n erediens,’ erken ons dat God nie beperk is tot mure van klip of hout nie. Die ganse kosmos is sy tempel, en elke blad wat ritsel, elke ster wat skyn, nooi ons om saam te sing: ‘Aan U, o Here, kom al die eer toe.’”               AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

ERKENNING: Verskeie teologiese bronne, naslaanwerke, asook KI (Kunsmatige Intelligensie) is gebruik. Waar KI woordeliks aangehaal word, word dit ALTYD volgens etiese standaarde in aanhalingstekens gekwoteer. Sommige van die foto’s is deur KI geskep.